Weskusboere ontvang maandelikse staatshulp

Veldstoestande in die Swartland het soveel verbeter dat boere daar nie meer voerhulp benodig nie. Die voerhulp sal nou eerder na boere aan die Weskus, Matzikama en die Sederberge gebied word.

Tydens die eerste van twee weidingassesserings het die Wes-Kaapse Departement van Landbou en Ekonomiese Geleenthede bevind die toestande van die veld in daardie gebiede het so verswak dat boere nou elke maand voerhulp moet ontvang.

Me. Beverley Schäfer, WesKaapse minister van Landbou en Ekonomiese Geleenthede, het vertel dat die veldassesserings wat in die somer en winter onderskeidelik plaasvind, die departement help om die weidingstoestande vas te stel en te bepaal waar droogtehulp die nodigste is.

“Bykomende ondersteuning sal nou aan sommige streke gebied word. Die boere wat ek ontmoet het en wat droogtehulp ontvang het, was dit eens dat die hulp noodsaaklik was om hul boerderye deur die droogte te dra,” het Schäfer gesê.

Boere in verskeie streke van die Wes-Kaap loop steeds deur onder voortslepende droogte. Hulle ontvang koepons waarmee hulle voer kan aanskaf. Sedert 2017 is rampfinansiering van R200 miljoen deur die provinsie en nasionale regering beskikbaar gestel om boere in die Wes-Kaap te ondersteun.

In Februarie vanjaar het die departement van landbou en ekonomiese geleenthede voerkoepons van R17,6 miljoen aan 1500 boere in die provinsie beskikbaar gestel. Die meeste van hierdie koepons is deur boere in die Sentraal-Karoo gebruik, waar 610 boere koepons van R8 554 512 ontvang het. Aan die Weskus het 424 boere koepons van R4 412 909 ontvang. In die distriksmunisipaliteit Eden het 42 boere koepons van R4 203 281 ontvang.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

five × 1 =

© 2019 MyCederberg. Alle Regte Voorbehou. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?