Top tien skoonheidswenke vir mans

Ons leef in ’n moderne en vinnige era waar dit baie belangrik geword het vir mans om na hul voorkoms om te sien. Die reeks skoonheidsprodukte wat vir mans beskikbaar is, het so uitgebrei dat dit nou moontlik is vir elkeen om op sy beste te lyk – ongeag jou kennis in hierdie veld asook jou begroting. Hier het ons van die top tien wenke saamgestel wat jy gerus kan probeer om op jou beste te lyk.

Skeer jou nekbaard

Om ’n nekbaard te hê was nog nooit in die mode gewees nie. Selfs vir diegene wat graag hul baard wil laat groei, is dit belangrik om jou nekbaard te skeer. Dit gee jou kakebeen meer definisie en kom baie netjies voor.

Minder is meer wanneer dit kom by mansparfuum

Het jy al ooit in ’n hysbak geklim en gevoel asof jy moet snak na jou asem omdat die vrou wat voor jou daar was se parfuum so dik in die lug hang? Wel – dieselfde geld vir mans! Hou dit minimaal. Nie net gaan dit jou geld spaar nie maar die vroue sal ook baie dankbaar wees.

Was jou gesig in die oggend en skilfer af saans

As ’n mens slaap is jy geneig om te sweet en ook natuurlike olies op te bou. Dit is dus belangrik om jou gesig soggens te was om die dag skoon te begin. Snags herstel die vel dus en jou vel is baie sensitief in die oggende. Dit is belangrik dat mens nie jou gesig in die oggende eksfolieer nie, maar wel elke aand om al die besoedeling wat deur die dag op jou gesig aanpak en in die porieë van jou vel gaan sit, te verwyder.

Smeer bevogtigende room aan na elke was

Met elke was verwyder jy nie net oortollige olies en vuilgoed van jou gesig af nie, maar ook die natuurlike olies wat baie belangrik is om ’n gesonde vel te hou. Bevogtigende room hou jou gesig gehidreerd en help om daai natuurlike olies weer op jou vel te hou.

Mens het twee wenkbroue nodig

Hierdie is ’n belangrike wenk wat elke man by kan baat. Elke persoon het twee wenkbroue nodig. Soms groei daai wenkbroue buite beheer en dan moet mans seker maak dat hulle ’n duidelike pad tussen die twee oophou. Mans se wenkbroue moet nooit tussen die oë ontmoet nie.

Maak mondspoel jou beste vriend

Soms is dit moeilik om agter te kom as jou asem nie te vars ruik nie. Hier is ’n wenk: As jou mond ’n slegte smaak het, dan is die kans amper 100% dat jou asem onaangenaam is. Hou mondspoel byderhand om daardie vernedering te voorkom.

Besoek jou haarkapper ten minste elke vier weke

Mens se hare groei redelik gou na daai vinnige knip by die haarkapper en jou netjiese styl kan baie gou slordig voorkom as die hare so langs die nek om loer of oor die ore kruip. Besoek jou haarkapper ten minste een keer elke vier weke om daai kapsel netjies en stylvol te laat lyk.

Maak lipsalf jou beste vriend

’n Mens se lippe is een van die areas op jou liggaam wat gou verouder en uitdroog. Maak lipsalf jou beste vriend deur dit aan te wend soos benodig gedurende die dag en voor jy gaan slaap. Gebruik ’n lipsalf met sonbeskerming om jou lippe teen ons Suid-Afrikaanse son te beskerm.

Sonroom moet daagliks gebruik word

Sonroom is ’n baie belangrike produk wat daagliks gebruik moet word en nie net vir daai paar minute by die swembad of ’n dag by die strand nie. Mens word daagliks aan die gevaarlike strale van die son blootgestel wat die elastisiteit van jou gesig verswak. Dit lei dan tot plooie wat jou vroeg oud kan laat lyk en kan ook velkanker veroorsaak. Daarom is dit belangrik om sonroom in jou oggendroetine in te sluit en aan te smeer voor dat jy die huis verlaat.

Was gereeld jou kussingsloop

Die idee van wasgoed doen kan mens sommer gou moedeloos maak. Maar hierdie wenk hoort jou gou te motiveer om jou kussingsloop gereeld te was! Omdat jou vel snags herstel, skei dit dooie lae vel af en met dit bou olies ook op. Dit gaan lê dan op jou kussing wat die volgende aand aan jou skoon vel blootgestel word. Dié veroorsaak dan blokkasies in jou vel se porieë wat knoppie – en puisies – op jou vel tot gevolg kan hê. Was jou kussingsloop ten minste een keer ’n week om dit te voorkom.

Begin vandag nog met van hierdie maklike wenke en beplan vir jou ’n eenvoudige skoonheidsroetine. Volg hierdie roetine getrou om ’n goeie voorkoms te waarborg.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

19 − fourteen =

© 2019 MyCederberg. Alle Regte Voorbehou. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?