Oud-leerders van Augsburg durf 31ste Trans Agulhas aan

Vier oud-leerders van Augusburg Landbougimnasium het gedurende Desember aan die 31ste Trans Agulhas deelgeneem en dit voltooi. Die vier het met twee verskillende bote op 28 Desember 2018 van Plettenbergbaai weggespring en op 1 Januarie by die eindpunt in Gordonsbaai aangekom. Altesaam 26 bote het aan die wedren deelgeneem.

Omdat dit vir beide Aubrey Faul en Juan Carstens se eerste Trans Agulhas was, moes hulle in die beginnersklas deelneem.

Aubrey en Juan se boot, S24, is deur Atlantic Oil geborg. Aubrey was die stuurman en Juan het hom bygestaan. Braam Nel het sy tweede vaart voltooi met Alwyn de Beer, ook ’n nuweling, as sy tweede in bevel. Braam en Alwyn is deur Citrans beborg. Die twee het aan die “Pro-Stock” klas deelgeneem. Die klas waarin daar deelgeneem word hang af van die soort boot en hoe dit opgebou is. Die vaart, wat oor 700 km strek, moet binne 5 dae voltooi word. Elke dag word ’n spesifieke afstand voltooi waarna die deelnemers op ’n dorp oorslaap en die volgende dag ’n nuwe skof aanpak.

Die Trans Agulhas word beskryf as die wêreld se strafste vaart vir rubberbote. Aubrey en Juan het die afstand in 12:23:58 voltooi en ’n derde plek in die beginnersklas behaal. Braam en Alwyn se tyd was 12:20:36. Op dag een het hulle 188.5 km van Plettenbergbaai tot Mosselbaai voltooi. Dag 2 van Mosselbaai tot Stilbaai was 86 km, dag 3 se afstand was oor 161 km van Stilbaai tot Struisbaai. Op dag 4 is 111 km van Struisbaai tot Gansbaai voltooi. Dag 5 – die laaste skof – was van Gansbaai tot Gordonsbaai oor ’n afstand van 113 km.

Ondersteuners van die vier manne is baie trots en bly hulle het veilig by hul eindbestemming aangekom. Dankie aan al die borge, want sonder hul ondersteuning sou dit nie moontlik wees om die uitdaging aan te pak nie.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

4 × one =

© 2019 MyCederberg. Alle Regte Voorbehou. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?