Landbousektor verwag ’n opdraande 2019

Weens verskeie uitdagings soos die droogte en bek-en klouseerkrisis gaan 2019 gewis nie ’n maklike jaar vir die landbousektor wees nie. Dr Christo Joubert van die Nasionale Landboubemarkingsraad het onlangs op Grootplaas gesels oor dié uitdagings, en hoe dit verbruikers gaan beïnvloed.

As gevolg van laat en min reënval in groot dele van die land, kan al die bedrywe wat direk afhanklik is van reën op hierdie stadium beïnvloed word. Hierdie bedrywe sluit in die groente- en somersaaibedrywe. Die impak hiervan sal ook uiteindelik oorspoel na ander bedrywe wat afhanklik is van byvoorbeeld mielies vir voer, soos die hoender-, vark- en suiwelbedryf. “Dit gaan baie druk plaas op voedselpryse en alle landboubedrywe,” meen Joubert.

Die uitvoerbedrywe wat effens later vanjaar ’n verskyning gaan maak, waaronder vrugte en veral sitrus, behoort met die verswakkende rand ’n goeie jaar te hê.

Groot uitbreidings vir verhoogde produksie word egter by vleissektore soos die hoender-, bees-, skaap- en varkbedryf opgemerk. Volgens Joubert wys die wêreldwye landbou-ekonomie dat daar ’n groot aanbod is in terme van dié bedrywe en plaas dit baie druk op die pryse.

Wat kan verbruikers verwag?

“Ek voorspel ’n ernstige styging in voedselpryse, maar nie so erg soos tydens die droogte van ’n paar jaar gelede nie,” sê Joubert. Hy doen ’n beroep op verbruikers om wys te wees wat voedselaankope betref. “Die regering en ander rolspelers moet ook besef dat die landbousektor nie ’n politieke speelveld is nie. Indien dit nie binnekort tot hulle deurdring nie, gaan volhoubaarheid en voedselsekerheid ernstig bedreig word.”

– Elmarie Helberg, Grootplaas

Verskaf deur: AgriOrbit

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

9 + 10 =

© 2019 MyCederberg. Alle Regte Voorbehou. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?