Interessante plekke in die Cederberg-area om te besoek

Die Cederberge is geleë sowat 160 km van Kaapstad en daar is hope interessante besienswaardighede en plekke om te besoek, elk met ’n unieke styl en atmosfeer. Daar is ’n oorvloed attraksies om te geniet en te veel om op een slag te noem, so ons gaan elke week vyf doendinge in die Cederberg-area met julle deel!

Indien jy ooit die voorreg het om hierdie spesiale area te besoek, is hier ’n paar plekke om te verken!

Bushmans Kloof Wildernis-oord

Volgens die vyfster-oord se webtuiste is dit die perfekte plek waar luuksheid en wildernis saamkom om ’n rustige wegbreek aan die voet van die Cederberge te skep. Met die kalm atmosfeer en asemrowende uitsigte, kan Bushmans Kloof nie misgeloop word nie!

Besoek gerus hul webtuiste by www.bushmanskloof.co.za vir verdere inligting.

Reinholds-restaurant

Die gewilde restaurant, geleë in ’n 1905 Victoriaanse huis op Clanwilliam, is wyd bekend vir hul biefstuk en sappige vleisgeregte. Met ’n kroeg waar mengeldrankies bedien word en ’n groot verskeidenheid geregte op hul spyskaart, is dit die top keuse vir die hele familie. Besprekings moet egter vooraf gedoen word om ’n opening te kry.

Ndedema Lodge

Die besonderse gastehuis is geleë in ’n pragtige Victoriaanse huis op Clanwilliam. Dit skep ’n rustige hawe vir enigeen wat dit geniet om in ’n stylvolle, maar unieke gastehuis te oornag. Op hul webtuiste www.ndedemalodge.co.za is daar foto’s van die ruim kamers en jy kan daar ook meer inligting oor besprekings kry.

Rooibos Bpk

Rooibos Bpk is ’n trotse, wêreldwye verskaffer van Rooibos sedert 1954, wat beslis ’n maatskappy is om te besoek! Daar is ook ’n winkel wat allerlei Rooibos-produkte verkoop. Om meer uit te vind oor Rooibos Bpk, besoek asseblief hul webtuiste by www.rooibosltd.co.za. Jy sal nie spyt wees as jy hier ’n draai gemaak het nie.

Middelberg-pas

Die Middelberg-pas is geleë op die R303 tussen Citrusdal en die Koue Bokkeveld in die Cederberge. Dit is ’n wonderlike roete om te volg omdat dit geskik is vir enige voertuig! Jy kan rustig bestuur en die pragtige uitsigte aanskou wat hierdie area bied.

Die Cederberg-area is beslis een van die mooiste plekke in ons land en daar is soveel meer om te doen en sien as wat op hierdie lys genoem is, so jy sal vir jouself moet gaan sien!

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

three × four =

© 2019 MyCederberg. Alle Regte Voorbehou. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?