Clanwilliam Museum stap op Vryheidsdag

Met ’n heerlike langnaweek wat voorgelê het en die bewyse van reën wat die vorige aand geval  het nog sigbaar op die grond, het ’n paar lede van die Clanwilliam-museumkomitee op Vrydag, 27 April uitgesien na ’n oggend se stap in die veld.

Die veld was skoongewas en dit was heerlik koel. Met water en ligte eetgoedjies in ’n rugsak en permitte in die hand het hulle om 10:00 die sirkelroete van Kliphuis by Pakhuispas begin stap. Dis ’n maklike stap en daar is gemoedelik geskerts. Ongelukkig was dit te vroeg in die blomseisoen om verras te kon word met interessante blomspesies. Maar dit was steeds baie mooi met die natuur om hulle en Jaap se kop in die verte. Hulle het deur wilde Rooibos gestap wat deur geen boer hier geplant is nie, maar wel net groei omdat dit hier hoort.

Spore, vermoedelik luiperd se kind, is gewaar, net om hulle te herinner dat mens die oortreder is en respek moet toon vir veld en dier wat hier was lank voor ons nog ons voetspore hier gelaat het. Die bietjie meer as 10 km is afgelê in sowat 3 ure se genotvolle stap en bring hulle weer by die pad net bokant Louis Leipoldt se graf.

Wat ’n wonderlike verrassing het hier vir hulle gewag, want Emil en Kay het ’n tafel opgeslaan met yskoue wyn, toebroodjies en heerlike koffie in die oulikste bloedrooi espresso-koppietjies.

So vier die Museum-komitee toe Vryheidsdag in die veld en laat almal met ’n gevoel van genoegdoening dat ons in hierdie wonderlike land en lieflike deel van die Kaap kan bly. Hoe het jy jou Vryheidsdag deurgebring? Stuur gerus vir ons jou ervaring, foto’s en avonture na mycederberg@lumico.co.za.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

nine + 20 =

© 2019 MyCederberg. Alle Regte Voorbehou. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?