Cederberg-streek groet die legendariese Cor Nieuwoudt

Die Clanwilliam Sakekamer het verlede jaar, tydens die jaarafsluiting, ’n toekenning, vir Uitsonderlike diens gelewer aan Clanwilliam & Gemeenskap, aan Cor Nieuwoudt gemaak.

Min het ons geweet dat Cor se lewe so vinnig tot ’n einde sou kom. Dit was met groot hartseer en skok wat ons op Vrydag 26 April van sy afsterwe verneem het.

Die nuus het vinnig in die klein gemeenskap versprei en was mense verslae en almal het dadelik gepraat oor hoe Cor op ’n unieke manier soveel mense aangeraak het deur sy Kliprivier Sending. Hy het soveel kinders in pleegsorg geneem en baie kinders het onder sy leiding hul liefde vir landlope uitgeleef en selfs Boland-, WP- en SA-atlete geword.

Cor het ’n verskil gemaak by verskeie skole en graag groente en vrugte by plase versamel wat hy weer uitgedeel het aan minder bevoorregtes.

Soos iemand tereg op Facebook gesê het: “Party mense kan regtig nooit ooit vervang word nie en oom Cor is een van daardie baie spesiale mense gewees. Niemand sal omgee soos hy omgegee het nie, niemand sal opoffer wat hy opgeoffer het vir daardie kinders nie.”

As Clanwilliam Sakekamer wil ons graag ons medelye uitspreek met sy vrou Johanna, gesin, familie en vriende. Cor sal voorwaar gemis word op verskillende vlakke, ons hoop dat ons as sakelui en gemeenskap sy legende sal kan voortleef.

Die roudiens vind op Sondag, 5 Mei, om 11:30, uit NG Kerk Clanwilliam plaas. Almal is welkom.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

ten − nine =

© 2019 MyCederberg. Alle Regte Voorbehou. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?