Biblioteek-uitstappie vir Graad 2-leerders hope pret

Die Graad 2-leerders van die Laerskool Graafwater het die kwartaal goed afgesluit met ’n heerlike uitstappie na die biblioteek.

Daar was op Vrydag, 8 Maart, “Jasper gaan winkel toe” vir die graad 2-leerders by die plaaslike biblioteek voorgelees. Die boek bevat ’n paar waardevolle lesse vir die leerders asook vir ouers. Die kinders was vasgenael en het aandagtig na elke sin van die insiggewende storie geluister.

Die doel van dié storie was om die kinders ’n bietjie in te lig oor wat hulle te doen staan as hulle sou wegraak. Daar is oulike maniere vir die kinders geleer hoe hulle hul ouers se telefoonnommers in ’n oogwink kan memoriseer.

Die lewenslesse het ’n hele paar gesiggies opgehelder en nou kan elke leerder en ouer met trots weet dat hulle veilig sal wees in enige winkel as hulle sou wegraak.

Daar word ’n beroep op ouers of selfs voogouers gemaak dat hulle verseker die kind in hul sorg is van ’n vroeë ouderdom af bewus van watter nommer gekontak kan word as hulle weg sou raak – en ook dat hulle die woonadres uit hul kop ken.

Dankie aan juffou Minikie Lotz wat die kinders gebring het om die kwartaal op ’n positiewe noot af te sluit.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

one × five =

© 2019 MyCederberg. Alle Regte Voorbehou. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?