Bek-en-klouseer: Is die grense oop of toe?

Die hele land en sy handelsvennote het met kommer kennis geneem van die bek-en-klouseeruitbreking wat vroeg in Januarie vanjaar gerapporteer is. Die aankondiging van die uitbreking is gevolg met gekoördineerde en vinnige aksie deur die regering en die bedryf.

Die aankondiging is ongelukkig ook onmiddellik gevolg deur die verlies van die land se bek-en-klouseervrye status van die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) en die gevolglike sluiting van verskeie grense vir Suid-Afrikaanse produkte van gespletehoefdiere.

Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) het vandag in Pretoria ’n perskonferensie gehou om oor die vordering met die beheer van die siekte en die werk van taakspanne wat geskep is om die situasie te beheer, terugvoer te gee.

Die twee belangrikste boodskappe by die perskonferensie was dat die uitbreking onder beheer is en dat daar nou hard gewerk word om dit op te ruim. Die ander boodskap is dat verskeie handelsvennote reeds hulle grense gedeeltelik of ten volle heropen het vir Suid-Afrikaanse produkte van gespletehoefdiere.

’n Siektebeheer-gebied met streng polisiëring en verskeie padblokkades is dadelik ingestel. Diere in die geaffekteerde gebiede en ’n 20km radius rondom dié gebiede word ook ingeënt. Sover is meer as 10 000 beeste al ingeënt.

Handelsvennote

Wanneer diere in ’n bek-en-klouseervrye sone positief getoets word, verloor die land dadelik sy bek-en-klouseervrye status by die OIE. Die onmiddellike reaksie hierop is dat handelsvennote hulle grense sluit vir produkte van gespletehoefdiere.

By die vorige perskonferensie het dr Pieter Vervoort, voorsitter van die Nasionale Dieregesondheidsforum, verduidelik dat ’n onderhandelingsproses in die meeste gevalle volg nadat handelsvennote ’n verbod ingestel het. “Ons handelsvennote het reeds kontak gemaak om die situasie te bespreek. Hulle wil weet presies wat gebeur het, waar dit gebeur het en wat die omvang van die situasie is.

“Hulle wil ook weet of daar bek-en-klouseervrye diere is waarmee ons steeds handel kan dryf. Dit is ons verantwoordelikheid om met dié vennote te kommunikeer en hulle gerus te stel dat ons produkte kan verskaf wat van bek-en-klouseervrye diere afkomstig is. Die taakspan wat op handel fokus, het belangrike werk om in dié verband te doen.”

Geslaagde onderhandelinge

Die onderhandelingsproses het reeds vrugte afgewerp. DAFF het vorderingsverslae met sy handelsvennote gedeel en in reaksie hierop is handelsbeperkings vir die uitvoer van verwerkte produkte deur baie lande verslap.

Volgens dr Mpho Maja, direkteur van dieregesondheid by DAFF, is die handel in sogenaamde veilige produkte na buurlande tot ’n groot mate aanvaar. Waar nodig word oor nuwe gesondheidsertifikate onderhandel. Veilige produkte sluit in hittebehandelde vleis- en suiwelprodukte, ontbeende en verouderde beesvleis, wol, gesoute velle, lewendehawe-embrio’s en varkvleisprodukte van gebiede wat nie deur bek-en-klouseer geraak word nie.

“Daar is ook goeie vordering gemaak in onderhandelinge vir die heropen van markte vir ontbeende en verouderde beesvleis, verwerkte suiwelprodukte en verwerkte velle na ander Afrikalande, die Midde-Ooste en die Verre Ooste.” – Marike Brits, AgriOrbit

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

6 − 2 =

©2019 . Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?