Augsburg Landbougimnasium spog met eie Robin Hood en William Hill

Armand Wiers het in twee jaar terug, in sy graad 8-jaar, begin om boogskiet te beoefen as sport. Dit was aangebied as skoolsport in Merensky Hoërskool op Tzaneen waar hy voorheen skoolgegaan het. Hy is daardie jaar aangewys as junior boogskut van die jaar by die skool se prysuitdeling. Verlede jaar het hy onder meer aan die Wêreldkampioenskappe vir Veld-boogskiet op Potchefstroom gaan deelneem waar hy ’n tweede plek in sy kategorie behaal het.

Hierdie kompetisie bring die beste skutte bymekaar om teen mekaar mee te ding. Die kompetisie strek oor vyf dae waar elke skut minstens 112 pyle per dag skiet. Armand se boog is gestel op 55pond – wat dit ’n taai kompetisie maak. Hulle moet kilometers in die veld en bosse stap om die baan te voltooi én dan moet hulle nog al hulle etes vir die dag saam met hul toerusting dra.

Hy is verlede jaar weer aangewys as junior boogskut van die jaar en het ook ‘n goue erepenning én erekleure ontvang by Merensky se jaarlikse prysuitdeling vir sy boogskiet. Hy het ook sy provinsiale kleure in boogskiet vir veldkampioenskappe verwerf en van 22 tot 24 Maart in Mpumalanga aan die nasionale veldkampioenskappe deelgeneem.

Armand en sy sussie, Chanri, is vanjaar trotse Augsies en neem steeds aan boogskiet-kompetisies deel. Armand het ook op 10 Februarie aan die binnenshuise kampioenskap, wat in Kaapstad gehou is, deelgeneem en ’n eerste plek in sy kategorie behaal met ’n telling van 294 (uit ’n moontlike 300). Op 3 Maart het Armand en Chanri aan die Triple Crown 3D boogskiet-kompetisie op George gaan deelneem. Hulle het albei eerste plekke in hul onderskeie kategorieë behaal. Armand het met ’n telling van 146 en Chanri het met ’n telling van 108 gespog.

Op 10 Maart het hulle aan die Somer Veldkampioenskappe op Langebaan deelgeneem en albei het eerste plekke in hul onderskeie kategorieë verwerf – ten spyte van die nat weersomstandighede. (’n Boogskiet-kompetisie word nie afgestel of uitgestel weens reën nie. Die kompetisie gaan normaalweg voort en die skuts moet in die reën, wind en koue skiet.)

Augsburg is trots op hierdie twee leerders. Dankie dat julle die skool se naam hoog hou met boogskiet. Kyk uit vir Armand en Chanri wanneer hulle oefen op Augsburg Plaas.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

six + 18 =

© 2019 MyCederberg. Alle Regte Voorbehou. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?